Saturday, 11 January 2014

Ons huisie by die see

21 jaar gelede, is ons as gesinnetjie saam Kaap St Francis toe vir 'n naweek.
Ons het gaan kuier vir familie se familie onder in Grosvenorweg.....
Na die naweek het ons bly gesels oor hoe lekker dit was, ek was 9, Nadia was 7 en kort voor lank het die "hoe lekker was dit daar" verander in "hoe lekker sal dit wees as ons ons eie plekkie het"

My pa en ma is altwee onderwysers en mens weet mos nou maar hoe baie geld daar tussen 2 onnies in dieselfde  huishouding.  Maar dit is toe besluit... Dit SAL lekker wees as ons ons eie plekkie kan hê by die see.

So pa en ma het toe iewers geld gekry, waar mens mos maar geld kry vir 'n strandhuis en so... en ons is weer see toe om na erwe te kyk.  Die een was bietjie duur, want jy kan die water sien... Die ander een kon ook die see sien, maar was te ver - dan sou ons moes ry see toe... Dan kan ons mos maar netsowel in Despatch bly in PE toe ry tot by die see?  So ons kry toe een.. wat nie die see kan sien nie, maar jy kan hom hoor en ruik vandaar.  Ook loopafstand van die branders af.

En pa koop die plot. 108 DaGamaweg, Kaap St Francis was nou die Mostert's s'n.
Die familie was almal ewe bly en opgewonde oor ons bossies en ons eie versamling Port Jackson bome by die see.

Menigte Sondae het ons met 'n paar stukke KFC en 'n 2l coke in die Opel Kadett geklim en dit gaan eet by die see. Onder die boom. ONS boom.  Dit was heerlik, pa het 'n paar bosse uitgekap elke keer as ons daar was en kort voor lank was die erf skoon...

Toe moes ons 'n huis kry.  Pa het lekker navorsing gedoen oor hoe die son skyn en hoe die wind waai en het die huis presies so gebou dat daar in die somer nie 'n druppel son iewers inskyn 12uur in die middag nie, maar dat die winterson mooi lekker op die regte plekke skyn.

Ons bou toe 'n huisie.  'n 1 slaapkamer, 1 badkamer, 1 leefvertrek-met-kombuis.  Mure en 'n dak.  'n Geen pleister, geen ceiling, geen toilet, geen krag, geen deure, geen vensters huisie. Net 'n dop. 
ONS dop.
JOAS - BETEKEN "DIE HERE HET GEGEE"

Met die tyd het familie soos oudergewoonte met KFC en darem nou 'n gasbottel en stofie see toe gegaan vir die naweek.  Ons is weer deur met die Kadett, ek en Nadia is soos sardientjies agter in die boot gestop, want ALLES moes saam see toe.  Van borde tot kos, tot 'n cooler box, tot klere en
sement en grawe en bougoed en ruitglas en putty.  Ons het een kamer se ruite ingesit, die deur met pale en 'n stut in die koesyn gehou en almal daar geslaap op die sementvloer vir ons eerste aandjie by die see. 

Ons badkamer was beautiful... 'n 5 liter roomysbak strategies geplaas 'n entjie van die huis agter 'n bos, 'n grafie, stuk draad waaraan die toiletpapier gehang het, en 'n boek...

So het die huisie na elke langnaweek en vakansie meer soos 'n huis begin lyk.  Die vensters was alles in, en elke gat het 'n deur gehad. Nou kon ons kuier.

Die familie het almal iets geskenk vir die huisie en die kaste en beddens en potte gebruik ons vandag nog! Mamma het sulke terrible gordynlap per meter gekoop... Rooi-blou-geel-groen geometriese patrone wat verkeerdeliks geprint was oor pienk en poeierblou blomme duvet lap, was net wat ons nodig gehad het om ALLES oor te trek en vir elke venster 'n gordyn te maak.  

DIE SEXY GORDYNE!!!!!
Dit hang ook immers vandag nog... Die banke is darem al vervang met ouma Anna se ou sitkamerstel en die kamers het nuwe gordyne en duvets gekry!

Ons het 18 jaar sonder 'n ceiling vakansie gehou.  Net die badkamer en slaapkamer het 'n plafon gekry due to obvious reasons.  Die leefvertrek het eers 2 jaar terug 'n plafon gekry!  Dit was heerlik om die reën te hoor op die sinkdak in die Junie vakansie - saam met die kaggel wat dieselfde vuur aan die brand gehad het vir die volle 3 weke van die wintervakansie.

Die muur aan die "storm" kant van die huis was net 'n enkelmuur, want ons sou nog 2 slaapkamers aanbou.  Die fondasie was gegooi en dit was ons tennisbaan vir 'n paar jaar.
Een nag het dit sò gereën van die stormkant af, dat die wind die reënwater dwarsdeur daardie  enkelmuur gestoot het en die hele huis duimdiep onder water gehad het!  Daarna was dit 'n ewige gespottery dat dit veiliger sou wees om met parravoete te gaan slaap, in case dit weer gebeur.

Ouma Daisy se bed was in die sitkamer, waar hy tot vandag nog staan.  Dit was en is die lekkerste plek in die hele huis!  Die bed in die hoek.  Ouma het gerook, en menigte nagte as ek wakker word was al wat mens in die donker kon sien, ouma Daisy se rooi kooltjie vooraan haar Craven A Mentol (die lange) sigaret.  Dis 'n nice memory, al is ouma D nie meer by ons nie. 

Ouma Daisy het ook gehelp sement aanmaak toe ons die agterste 2 kamers aangebou het en was deel van die seremonie toe die lintjie in die gang geknip word om die kamers in te huldig met ontbyt op die rou sementvloer.

Die hele huis was en is 'n familie huis.  Almal is welkom, niemand word genooi nie, jy kom het. 
Daar sal plek wees vir jou.  Ons was al 23 mense in die huisie en dit was lekker.... Almal familie.

Intussen is daar darem al teëls, 'n geyser, en krag, en 'n fully functional badkamer en kombuis.
My pa het een dag op die dak gewerk, al die gate om die dakspykers toegemaak, toe hy iemand by die eletrisiteitsboks sien karring het. Op daardie stadium het ons net een kragprop buite die huis gehad, met 'n lead wat in die huis ingegaan het vir die ketel en 'n lig deur 'n gat in die
vensterraam.  Na die man klaar was, het hy opgeskree na my pa toe, Mnr so-en-so, jou krag is nou aan... Ons het nie gevra vir krag nie?  Die arme electrician het dit by die verkeerde huis aangesit.  So toe het ons krag!  By default.  Maar daai krag waar jy die geyser moet afsit voor jy die stoof aansit en so aan. Menigte koue storte en menigte kere het die krag getrip - die krag trip nogsteeds, veral as die broodmasjien aan is - dan's die brood net 3 snye hoog!  Ons het voorheen 'n potbroodgat net langs die huis gehad - waar ons die lekkerste brode in die swartpot gebak het, maar ons het nou geupgrade - of het ons nou? Want die broodgat kon nooit trip nie?

DIE BROOD !
Met die tyd wat ons net 1 kragprop gehad het, het ons ook net een lig gehad - een van daardie mechanic ligte wat jy kan haak bo-oor 'n kar of iets om beter te kan sien my kind.  Die lig het oor die dakbalk gehang. In die aand het ons kaart gespeel en die rook van ouma Daisy en oom Leon se sigarette het om die lig gehang.  Soos in 'n ou kroeg - so mistig.

Vakansietyd was ook tyd vir swart kat speel.  Die tv-series het vir my en Nadia 'n goeie idee gegee. Ons gaan spy. Op almal en alles in Kaap St Francis.  Ons het vreeslike vergaderings
gehou met notules en presensie-lyste en almal het 'n code name gehad. Ook ons nefies, Stefan en Wessel, het 'n bynaam gehad as hulle kom kuier het.  Ons het hide-outs gebou en kaarte geteken, en regtig erg lekker gespeel op al die boupersele om ons.  Ons head-quarters was bo in
my kamer se hangkas, soos in heel bo in, ons het alles opgeskuif en 'n kombers ingesit, en het gedurende die kwartaaltyd daar vergader, minder gereeld as in die vakansie met 'n once-a-day meeting.

Ons motto by die see is "eet tot jy vaak is, en slaap tot jy honger is" en dit is feitlik al wat ons daar doen. Vreet en slaap - want ons mag.

Hierdie vakansie was die 20e Kersfees was ons as gesin by die see was.  Dit was great om my eie kinders hierheen te kon vat en te laat deel word van 'n 20-jaar-oue storie - een van die dae ruk ek my spy-gear uit en trap ek saam met my kids die bosse plat vir clues en voetspore!

Dankie pa en ma dat julle 20 jaar terug roekeloos was en vir ons 'n huisie by die see gebou het. 

Ek glo julle weet watter impak dit het op die saamwees van die familie.

I salute you.
xxx




OUPA SE VIS IS GROTER AS SHAWN





BIKINI PRE-VARSITY

BIKINI PRE-BABY!!!




Add caption

8 MAANDE SWANGER MET SHAWN


ONS STATE OF THE ART SOUND SYSTEM


PAPPA BOU DIE STOEP



OUPA GEE SHAWN SE EERSTE VISVANG LES




OUPA SE LESSE HET GEWERK!
PROOF THAT I DID IN FACT LOSE 23 KG'S AND WORE A FREAKIN BIKINI THIS HOLIDAY!
(THIS WAS PRE-TAN, I NOW HAVE A MUCH NICER TAN)



1 comment:

  1. Dit was pragtig om te lees! Herinneringe is meer as goud werd♥ Groete uit UK vir lieflike Anelli. x

    ReplyDelete